Die Rol van die Parlement in Jeugontwikkeling
Die Parlement het komitees soos die Portefeuljekomitee oor Vroue, die Jeug, Kinders en Mense met Gestremdhede en die Gekose Komitee oor Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede wat hulle vir jeugkwessies beywer. Dié komitees is verantwoordelik vir toesighouding oor jeugkwessies, en moet wetgewing hanteer wat jongmense raak.
Die Parlement het in sy oorkoepelende taak om wette te maak baie wette aangeneem soos die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging, 2003, die Wet op Vaardigheidsontwikkeling, 1998, en die Wet op Gelyke Indiensneming.
In sy toesighoudingsrol hou die Parlement toesig oor die inwerkingstelling van bepaalde wetgewing, met inbegrip van dít wat op die land se jeug van toepassing is.
Hoe Suid-Afrika se Jeug by die Parlement betrokke kan raak
Ten einde die Parlement meer toeganklik te maak, is daar 'n program bekend as "Member's Interface", waartydens jongmense met 'n individuele Parlementslid kan skakel oor kwessies wat vir hulle belangrik is. Hulle kan ook hul stem laat hoor deur mondelinge of geskrewe voorleggings te doen.
Die jeug is ook deel van die publiek wat komiteevergaderings kan bywoon, waar die meeste van die Parlement se werk plaasvind, en hulle kan sittings bywoon om waar te neem en hulself te verryk en te bemagtig.
Die Parlement het verskeie inisiatiewe wat op verskillende sektore gerig is, byvoorbeeld die Jeugparlement (wat gedurende die Jeugmaand aangebied word), waartydens kwessies wat vir die jeug ter sake is, bespreek word. Deelname word tot jongmense beperk en die verrigtinge word aan hulle gewy.
Die Grondwet verplig die Parlement om die publiek by sy bedrywighede en prosesse te betrek, daarom word die jeug, as deel van die samelewing, dikwels uitgenooi om deel te neem aan die Parlementêre inisiatiewe, soos openbare verhore, die staatsrede en ander programme gemik op uitreiking en openbare deelname.
